Afrikaanse avontuurverhale uit die 1950s

Read this page in English.

Vir meer as ‘n dekade, van die laat 1940s tot die vroeë 1960s, was daar ‘n ontploffing van Afrikaanse avontuurverhale. Die voorste uitgewering van hierdie boeke, Pronk, het bykans twee boeke per maand uitgegee vir byna 15 jaar – sowat 350 boeke altesaam.

Die oorgrote meerderheid van hierdie boeke het gekom uit die pen van vier skrywers. Braam le Roux het 101 boeke geskryf in ‘n skryfloopbaan van net sowat tien jaar. Meiring Fouché het 79 geskryf, Reinhardt Hendriks (soms onder die skuilnaam Casper H. Marais) het 76 geskryf en Gerrie Radloff 71.

Herpublikasie van Pronk boeke

Die meeste van heirdie boeke is met die jare heruitgegee. Sover vasgestel kan word, is Say Books die eerste wat enige van hierdie boeke in eboek-formaat beskikbaar stel. (Hulle is hier te koop.)

Oorspronklike tekste was moeilik bekombaar, en ons moes maar verlaat op herpublikasies waarin sekere aspekte van die oorspronklike boeke aangepas is, bv. verwysings na geld sowel as die terminologie waarmee na verskillende rasse verwys word. Ons het die tekste so na as moontlik aan die bronne gehou, maar het duidelike foute reggemaak en klein tipografiese verbeteringe aangebring ter wille van duidelikheid. Hier en daar het die betekenis van sekere woorde dermate verander dat ons ter wille van moderne lesers die meer algemene hedendaagse woord gebruik het.

Wat nie verander kon word nie is die morele en etiese uitgangspunte van die tyd, veral met betrekking tot die houding jeens mense van verskillende rasse. Hoewel ons ras-pejoratiewe vermy, bly die houdings soos hulle oorspronklik was. Dit maak hierdie boeke ook interessant uit ‘n sosiologiese standpunt. Dis opvallend dat die helde Afrikaners is, en die skurke gewoonlik uitlanders.

Bowenal is hierdie stories egter vermaak van ‘n soort wat mens deesdae min sien – avontuurverhale waarin geloofbaarheid onbeskaamd opgeoffer word ter wille van opwinding.

Afrikaanse avontuur-reekse uit die 1950s

Die Pronk-boeke het in ‘n aantal verskillende reekse verskyn, met verskillende skrywers wat baiemaal bydra tot dieselfde reeks.

Die skrywer wat die meeste van hierdie boeke geskryf het, Braam le Roux (skuilnaam van  Abraham le Roux Botha) het vier van hierdie reekse afgeskop:

  • Die Swart Luiperd is ‘n held met ‘n luipermasker. Leon Fouché deurkruis oerwoude met sy perd, begelei deur twee luiperds, om booswigte te beveg.
  • Temmers van die Woestyn is ‘n reeks “Westerns” teen ‘n Suid-Afrikaanse agtergrond.
  • SA Polisie fokus  op berede konstabel Kobus Roode se avonture in Zoeloeland. Die stories speel in die na-oorlogse jare af.
  • Swerwer Speurder vertel van speurder Obed de Swardt se avonture in die 1950s.

Na Braam le Roux se dood, is al vier hierdie reekse deur ander skrywers voortgesit.  Meiring Fouché (skuilnaam van die bekende F.A. Venter) het die Swart Luiperd-reeks oorgeneem en bygedra tot SA Polisie en Swerwer Speurder. Hy het ook twee reekse van sy eie geskep:

  • Maagd van die See oor ‘n seerowerskip.
  • Sahara Avontuur oor ‘n Suid-Afrikaner in die Franse Vreemde Legioen.

Gerrie Radlof (in latere uitgawes gespel Radloff, was die skuilnaam van Gerrit van Zyl). Hy het bygedra tot heelparty reekse en ook twee van sy eie begin:

  • Ramala speel af rondom die Visrivier in die 1840s. ‘n Klein bende gelei deur Manie van der Walt veg om geregtigheid.
  • Oloff die Seerower was een van die enkele reekse wat in sy geheel deur een skrywer behartig is.

Reinhardt Hendriks, onder die naam Casper H. Marais, het Rooi Jan geskep, oor ‘n bebaarde Tarzan-agtige figuur in die Visrivieromgewing rondom die Groot Trek.

Reinhardt Hendriks se broer, Hermie Hendriks, het ook ‘n aantal boeke geskryf, onder meer sy eie Diamantveld reeks, teen die agtergrond van die ontdekking van diamante in die 1870s.